My hartjie, my liefie, die son kom op, die son kom op, dáár anderkant die blou berge... En wanneer mens gaan kamp in die hartjie van New South Wales se Blue Mountains National Park, met ʼn grondpad af en af teen die berg tussen hoë bome en rotse en varings deur, waar mens selfoonontvangs verloor en hoop jy sal oor ʼn dag of drie weer hierdie steil, klipperige bult kan óp, maar nou is dit net aanhou ondertoe en jou hart wat in die nou paadjie op tippietone opsystaan vir ander motors wat van voor af verbykom, af en af tot by Murphy’s Glen kampeerterrein (en jy hoop tog nie dis ʼn voorbode van Murphy’s Law nie, want jy wéét hoe dinge kan skeefloop wanneer julle gaan kamp), af tot waar ʼn stroompie iewers onsigbaar verbyflikker, dan kom die son eers láát op.
Die kaketoes, hoog in die boonste boomtoppe, sien egter heelwat vroeër die son ver oor Sydney se see opkom. Wanneer die lig skaars begin om die nag se potloodskaduwees uit te vee en die oog nog sukkel om van vorms sin te maak, raak die groot voëls al onrustig. Geelkuifkaketoes (sulphur-crested cockatoos) is groot en imposant en astrant, en hul stemme stam uit ʼn oertyd van krysende pterodaktiele. Die voëlboek beskryf hulle roep as ʼn “loud raucous screech”. Inderdaad. As ʼn swerm van dertig plus kaketoes ontwaak, is dit ʼn raserige saak. Bring solank jou oorpluisies. Vandat die eerste een sy skel “krê-krê” die oggendskemer instuur, is dit ʼn rumoer en gekrys en geskreeuery van ʼn goeie twee ure voordat die laaste een die daglig invlieg om elders te gaan wei. En vanaand se tuiskoms is dieselfde luide geskel tot almal uiteindelik hul sit gekry het. Tog kan ek begryp hoekom dit betreklik maklik is om kaketoes te leer praat. Daar is ʼn wonderlike verskeidenheid in die kras klanke. “Koppiekrap” is maar een variant. Ná ʼn paar uur se luister, hoor ek “hello”, “let’s go”, “hector” en andere. Daar’s behoorlik ʼn heen en weer gegroetery en uitskellery. Bygesê, twee ure se aanhoudende lawaai kan met jou kop mors ... Later klink die kaketoes vir my soos ʼn skare betogers wat slagspreuke skreeu, oor en oor. Maar dan kom een met ʼn nuwe gevatheid en sowaar, die volgende dag skree almal die nuwe deuntjie. Op ons laaste aand in die kamp, lank voor die kaketoes se geraas uitgewoed is, beset ʼn nuwe groepie kampeerders een van die vyf staanplekke. Dis ʼn kampkombi met vier jong meisies wat, te oordeel aan hul aksente, iewers uit Wes-Europa kom. Met hul generiese poniesterte en mooi lyfies in kort-kortbroekies trotseer hulle ongeërg die Australiese nag, selfs hier waar ʼn boskleinhuisie die enigste “geriewe” is. Terwyl ons die volgende oggend kamp afslaan, loer ek na hulle deur die tentflappe. Dis effens deinserig en hier in die waai van die berg in die bome se skaduwee kan mens se oë jou parte speel. So op ʼn afstand van dertig meter en aan die ouderdom se afdraandkant is ek seker ook nie geseën met die skerpste visie nie. Moet dus nie my woord neem daarvoor nie. Maar ek sweer een van die “pretty young things” stap uit die kombi met nét ʼn T-hemp aan. En as sy wel dalk ʼn deurtrekker aangehad het – wel, die prentjie van agter bly dieselfde. My ma se oë sou op steeltjies gestaan het. My ouma, wat lief was om mens te betig oor hemppante wat uithang – “Hoeveel kos jou vadoeke?” – sou óf dood neergeslaan het óf die dametjie ʼn grondseil gaan aanbied het om haar naaktheid mee te bedek. Ek wend maar net my oë af en skud my kop. Dis iets wat ek deesdae al meer bemerk hier, maar wat duidelik nie beperk is tot die jeug van Australië nie – jong meisies (slank of geset, mooi of lelik) verskyn in die openbaar in lycrabroekies wat só styf sit dat dit absoluut niks aan die verbeelding oorlaat nie. Dis asof hulle wil seker maak die Liewe Here tel elke haar nie net op hulle hoofde nie, maar op elke ander geheime plekkie. Selfs andersins skynbaar goedopgevoede meisies vind dit nie vreemd om so ontbloot rond te gaan nie. Maar, besef ek toe skielik, hoe kan ek oordeel oor die gepastheid daarvan? In Afrika en elders in sogenaamde “inheemse” gemeenskappe loop vrouens ewe ongeërg rond met ontblote borste en mans met skraps lendelappies. Ja, maar, sal jy sê, dis deel van hulle kultuur. Presies. En hierdie nuwe vlaag kaal meisies is skynbaar deel van die moderne Westerse kultuur. Ek het gewonder wat sou die kaketoes daaroor te sê hê, maar het versuim om te vra. Hello, hello, let’s go. Dáár anderkant die Blouberge...
2 Comments
Elmarie
1/7/2024 02:27:26 am
Hallo Ilse
Reply
Ilse
1/7/2024 06:14:11 am
Hallo Elmarie
Reply
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Archives
January 2024
|