Dis die mens se aard om te wil inmeng met die natuur. Dis die kunstenaar (en skrywer) se aard om die wêreld, en dus ook die natuur, te wil interpreteer en reïterreer. In vele opsigte is dit ʼn onbegonne taak, wat nie beteken dat mens gaan ophou probeer nie. Koppig hou jy aan, probeer jy die gegewe herskryf. Maar die Waterberg is, vóór die aankoms van skrywers, rééds verwoord. Is reeds ʼn gedig.
“Uit die gevormde literatuur,” skryf NP van Wyk Louw, “is nooit weer poësie te maak nie/ uit die ongevormde wél”. Die Waterberg is ongevormde literatuur, ʼn taalruimte van natuur. Die kranse is daaruit opgebou en bevolk met plante, voëls, diere, kleinvolk wat in die blote naamgewing daarvan reeds poësie word. Luister hierna (of lees dit hardop): moepel mispel maroela stamvrug suurpruim botterklapper poerabessie wurgvy doppruim drolpeer dopperkiaat kurkbas soetdoring sekelbos kierieklapper raasblaar rooibos hardekool horingpeultjie haak-en-steek wag-ʼn-bietjie pypsteel dikbas bobbejaanstert poeierkwas knapsekêrel miershoop mamba piet-my-vrou pietkluitjiekorrel gompou kwêvoël waterhondjie mopaniewurm rinkhals rysmier ghielemientjie. Die ruimte wat digters letterkundig probeer verewig is lank reeds uitgespel deur bewoners en naamgewers, Adams en Evas wat die aarde benoem het. Elke naamgewing is ʼn klippie in die konglomeraatgedig van die Waterberg. Eers later diep digters daaruit en rangskik die losgebreekte spoelklippe in versreëls of gooi dit soos dolosse op die grond. Carina Stander, bekende skrywer, kunstenaar en Waterbergboorling, knipoog na so ʼn lys in haar gedig “droogte is stil chaos” (die vloedbos sal weer vlieg, 2006): “maroela klapper kanniedood” *. Die naamkundige Lucia Möller is eweneens ʼn Waterbergdigter en noem dié dinge (wel minder opvallend) op, soos die “bergkarees en klapperbome”, “wildekatjiepieringhout”, “rotsvykranse”, “stinkhout-, vye- en haakdoringboom” in die gedig “Wandelpaaie” (Watermerke, 2009). Plekname vorm ʼn tweede betekenislaag: Sterkstroom Doornfontein Vaalwater Kranskop Nylsvlei Tarentaalstraat Dwarsrivier Sandrivier Melkrivier Vier-en-twintig-riviere. Maar ook: Lephalala Mokôlo Mmamatlakala Mogalakwena. Wie kan stry dis pure poësie? Skrywers put uiteraard uit bestaande woorde en taal, ʼn taal “geërf gedêps geleen”, aldus Carina Stander (“Credo I” uit bogenoemde bundel). Eugène Marais, seker die Waterberg se bekendste skrywer, beskryf die streek meer breedvoerig in sy prosa as in gedigte. Vir myself bly dié grootwordplek ʼn numineuse inspirasie eerder as iets waar ek ooit my tong om sal kan kry. NP van Wyk Louw skryf: “Iets staan in sterrehelderte geskryf/ en ek skryf ná in stof”. Of, in die geval van die Waterberg – ek skryf ná op water. Die water en die klip is reeds poësie. Digters kan bloot die klippies uitskiet oor die water en hoop dat dit darem ʼn paar maal sal spring voor dit merkloos die dieptes in verdwyn. * Terloops, Antjie Krog, wel nie ʼn Waterberger nie, maak meesterlik uit ʼn soortgelyke lys ʼn besonderse gedig, “Afrikaanse Abecedarium” (Groen, 1990).
Hierdie essay is aanvanklik geskryf vir opname in Plus 50: Streek/Region Waterberg (Des. 2023), maar is nie gepubliseer nie. Die essay "Klipstories" verskyn wel daarin.
0 Comments
My hartjie, my liefie, die son kom op, die son kom op, dáár anderkant die blou berge... En wanneer mens gaan kamp in die hartjie van New South Wales se Blue Mountains National Park, met ʼn grondpad af en af teen die berg tussen hoë bome en rotse en varings deur, waar mens selfoonontvangs verloor en hoop jy sal oor ʼn dag of drie weer hierdie steil, klipperige bult kan óp, maar nou is dit net aanhou ondertoe en jou hart wat in die nou paadjie op tippietone opsystaan vir ander motors wat van voor af verbykom, af en af tot by Murphy’s Glen kampeerterrein (en jy hoop tog nie dis ʼn voorbode van Murphy’s Law nie, want jy wéét hoe dinge kan skeefloop wanneer julle gaan kamp), af tot waar ʼn stroompie iewers onsigbaar verbyflikker, dan kom die son eers láát op.
Die kaketoes, hoog in die boonste boomtoppe, sien egter heelwat vroeër die son ver oor Sydney se see opkom. Wanneer die lig skaars begin om die nag se potloodskaduwees uit te vee en die oog nog sukkel om van vorms sin te maak, raak die groot voëls al onrustig. Geelkuifkaketoes (sulphur-crested cockatoos) is groot en imposant en astrant, en hul stemme stam uit ʼn oertyd van krysende pterodaktiele. Die voëlboek beskryf hulle roep as ʼn “loud raucous screech”. Inderdaad. As ʼn swerm van dertig plus kaketoes ontwaak, is dit ʼn raserige saak. Bring solank jou oorpluisies. Vandat die eerste een sy skel “krê-krê” die oggendskemer instuur, is dit ʼn rumoer en gekrys en geskreeuery van ʼn goeie twee ure voordat die laaste een die daglig invlieg om elders te gaan wei. En vanaand se tuiskoms is dieselfde luide geskel tot almal uiteindelik hul sit gekry het. Tog kan ek begryp hoekom dit betreklik maklik is om kaketoes te leer praat. Daar is ʼn wonderlike verskeidenheid in die kras klanke. “Koppiekrap” is maar een variant. Ná ʼn paar uur se luister, hoor ek “hello”, “let’s go”, “hector” en andere. Daar’s behoorlik ʼn heen en weer gegroetery en uitskellery. Bygesê, twee ure se aanhoudende lawaai kan met jou kop mors ... Later klink die kaketoes vir my soos ʼn skare betogers wat slagspreuke skreeu, oor en oor. Maar dan kom een met ʼn nuwe gevatheid en sowaar, die volgende dag skree almal die nuwe deuntjie. Op ons laaste aand in die kamp, lank voor die kaketoes se geraas uitgewoed is, beset ʼn nuwe groepie kampeerders een van die vyf staanplekke. Dis ʼn kampkombi met vier jong meisies wat, te oordeel aan hul aksente, iewers uit Wes-Europa kom. Met hul generiese poniesterte en mooi lyfies in kort-kortbroekies trotseer hulle ongeërg die Australiese nag, selfs hier waar ʼn boskleinhuisie die enigste “geriewe” is. Terwyl ons die volgende oggend kamp afslaan, loer ek na hulle deur die tentflappe. Dis effens deinserig en hier in die waai van die berg in die bome se skaduwee kan mens se oë jou parte speel. So op ʼn afstand van dertig meter en aan die ouderdom se afdraandkant is ek seker ook nie geseën met die skerpste visie nie. Moet dus nie my woord neem daarvoor nie. Maar ek sweer een van die “pretty young things” stap uit die kombi met nét ʼn T-hemp aan. En as sy wel dalk ʼn deurtrekker aangehad het – wel, die prentjie van agter bly dieselfde. My ma se oë sou op steeltjies gestaan het. My ouma, wat lief was om mens te betig oor hemppante wat uithang – “Hoeveel kos jou vadoeke?” – sou óf dood neergeslaan het óf die dametjie ʼn grondseil gaan aanbied het om haar naaktheid mee te bedek. Ek wend maar net my oë af en skud my kop. Dis iets wat ek deesdae al meer bemerk hier, maar wat duidelik nie beperk is tot die jeug van Australië nie – jong meisies (slank of geset, mooi of lelik) verskyn in die openbaar in lycrabroekies wat só styf sit dat dit absoluut niks aan die verbeelding oorlaat nie. Dis asof hulle wil seker maak die Liewe Here tel elke haar nie net op hulle hoofde nie, maar op elke ander geheime plekkie. Selfs andersins skynbaar goedopgevoede meisies vind dit nie vreemd om so ontbloot rond te gaan nie. Maar, besef ek toe skielik, hoe kan ek oordeel oor die gepastheid daarvan? In Afrika en elders in sogenaamde “inheemse” gemeenskappe loop vrouens ewe ongeërg rond met ontblote borste en mans met skraps lendelappies. Ja, maar, sal jy sê, dis deel van hulle kultuur. Presies. En hierdie nuwe vlaag kaal meisies is skynbaar deel van die moderne Westerse kultuur. Ek het gewonder wat sou die kaketoes daaroor te sê hê, maar het versuim om te vra. Hello, hello, let’s go. Dáár anderkant die Blouberge... |
Archives
January 2024
|