Dis die mens se aard om te wil inmeng met die natuur. Dis die kunstenaar (en skrywer) se aard om die wêreld, en dus ook die natuur, te wil interpreteer en reïterreer. In vele opsigte is dit ʼn onbegonne taak, wat nie beteken dat mens gaan ophou probeer nie. Koppig hou jy aan, probeer jy die gegewe herskryf. Maar die Waterberg is, vóór die aankoms van skrywers, rééds verwoord. Is reeds ʼn gedig.
“Uit die gevormde literatuur,” skryf NP van Wyk Louw, “is nooit weer poësie te maak nie/ uit die ongevormde wél”. Die Waterberg is ongevormde literatuur, ʼn taalruimte van natuur. Die kranse is daaruit opgebou en bevolk met plante, voëls, diere, kleinvolk wat in die blote naamgewing daarvan reeds poësie word. Luister hierna (of lees dit hardop): moepel mispel maroela stamvrug suurpruim botterklapper poerabessie wurgvy doppruim drolpeer dopperkiaat kurkbas soetdoring sekelbos kierieklapper raasblaar rooibos hardekool horingpeultjie haak-en-steek wag-ʼn-bietjie pypsteel dikbas bobbejaanstert poeierkwas knapsekêrel miershoop mamba piet-my-vrou pietkluitjiekorrel gompou kwêvoël waterhondjie mopaniewurm rinkhals rysmier ghielemientjie. Die ruimte wat digters letterkundig probeer verewig is lank reeds uitgespel deur bewoners en naamgewers, Adams en Evas wat die aarde benoem het. Elke naamgewing is ʼn klippie in die konglomeraatgedig van die Waterberg. Eers later diep digters daaruit en rangskik die losgebreekte spoelklippe in versreëls of gooi dit soos dolosse op die grond. Carina Stander, bekende skrywer, kunstenaar en Waterbergboorling, knipoog na so ʼn lys in haar gedig “droogte is stil chaos” (die vloedbos sal weer vlieg, 2006): “maroela klapper kanniedood” *. Die naamkundige Lucia Möller is eweneens ʼn Waterbergdigter en noem dié dinge (wel minder opvallend) op, soos die “bergkarees en klapperbome”, “wildekatjiepieringhout”, “rotsvykranse”, “stinkhout-, vye- en haakdoringboom” in die gedig “Wandelpaaie” (Watermerke, 2009). Plekname vorm ʼn tweede betekenislaag: Sterkstroom Doornfontein Vaalwater Kranskop Nylsvlei Tarentaalstraat Dwarsrivier Sandrivier Melkrivier Vier-en-twintig-riviere. Maar ook: Lephalala Mokôlo Mmamatlakala Mogalakwena. Wie kan stry dis pure poësie? Skrywers put uiteraard uit bestaande woorde en taal, ʼn taal “geërf gedêps geleen”, aldus Carina Stander (“Credo I” uit bogenoemde bundel). Eugène Marais, seker die Waterberg se bekendste skrywer, beskryf die streek meer breedvoerig in sy prosa as in gedigte. Vir myself bly dié grootwordplek ʼn numineuse inspirasie eerder as iets waar ek ooit my tong om sal kan kry. NP van Wyk Louw skryf: “Iets staan in sterrehelderte geskryf/ en ek skryf ná in stof”. Of, in die geval van die Waterberg – ek skryf ná op water. Die water en die klip is reeds poësie. Digters kan bloot die klippies uitskiet oor die water en hoop dat dit darem ʼn paar maal sal spring voor dit merkloos die dieptes in verdwyn. * Terloops, Antjie Krog, wel nie ʼn Waterberger nie, maak meesterlik uit ʼn soortgelyke lys ʼn besonderse gedig, “Afrikaanse Abecedarium” (Groen, 1990).
Hierdie essay is aanvanklik geskryf vir opname in Plus 50: Streek/Region Waterberg (Des. 2023), maar is nie gepubliseer nie. Die essay "Klipstories" verskyn wel daarin.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Archives
January 2024
|