|
Was dit die linker- of die regtervoet? Dié vraag hou my wakker in die nag. As ék dit nie onthou nie, wie bly oor? My pa sou dalk onthou, maar ons herinneringe strook lankal nie meer nie. Wat hy dus as onteenseglike waarheid beskou, sal ek waarskynlik betwyfel.
As hierdie ʼn storie of ʼn allegorie was, sou ek dit tot linkervoet kon lieg, want stories vra immers patroon. Maar my geheue neig na regs. Tog, hierdie ís mos ʼn storie. Dus ... Linkervoet Dit was die eerste van die vier beserings, een aan elke ledemaat, en die herinnering daaraan rol voor my oop soos die openingstoneel van ʼn film, soos ek vyftig jaar terugkyk na ʼn verlede waarvan ek nou toeskouer is eerder as deelnemer. Dit is ʼn plaastoneel: In die agtergrond, teen ʼn effense bultjie, steek die plaashuis se dak bo bome uit, met na regs ʼn stoor en ander buitegeboue. Op die voorgrond is twee kinders – ek is ongeveer vyf jaar oud en my broer Rolf ʼn jaar ouer. Daar is ʼn klein plaasdammetjie tussen ons en die huis. Dit is nie ons huis nie. Terwyl my ma hier besoek aflê by haar vriendin, is ons losgelaat om onsself te vermaak. Ons is self plaaskinders en gewoond aan losloop sonder toesig. Sien nou die twee kinders met hulle blonde koppies. Die seuntjie het ʼn visstok – niks duur of fênsie nie, sommer net ʼn stok met lyn en hoek – en erdwurms wat hy nounet op die damwal uitgegrawe het vir aas. Die dogtertjie vang nog nie vis nie en sy is skrikkerig vir die water – toe hulle tydens ʼn vorige besoek op die ou plaasskuit op die dam geroei het, was sy dodelik bang vir die groot, donker watermassa. Tog fassineer die oewer haar, waar die water dun en deurskynend aan die modder proe soos die klein vissies wat wegswiep as sy nader kom. Terwyl haar boetie met sy visgoed doenig is, kyk sy in die water in, dwaal dan ʼn entjie weg en hurk tussen die kort grassies. Tot hier is die beeld duidelik en my onthou soos deur ʼn helder ruit. Maar wat volg is dynserige, hakkelende hoorsê. ʼn Gil. Nee, ʼn aanhoudende gegil, sodat die vrouens vreesbevange uit die huis storm. Die seuntjie wat verontskuldigend terugstaan: Dit was nie ek nie, Mamma, ek het haar niks gemaak nie! Later sou ek vertel dat ek maar net gaan sit het. Op die slang. Wat my (hoe anders?) aan die hakskeen gepik het. ʼn Nagadder, sou die hospitaalpersoneel besluit na aanleiding van my beskrywing van ʼn kort, bruin slangetjie. Behalwe vir die pyn en swelling en drie dae se hink op ʼn potblou voet, het ek lig daarvan afgekom en geen sigbare litteken oorgehou nie. Die volgende besering sou wel ʼn blywende merk laat, ʼn klein misplaaste stigma. Linkerhand Die litteken aan my linkerhand is ʼn netjiese induiking in die vlesige web tussen duim en wysvinger, soos die ingetrekte punte op kussings of meubels waar dekoratiewe knope kom. Ek let dit selde nog bewustelik op, hoogstens as ʼn netjiese ruspunt vir my wysvingernael wanneer ek my vuis toevou. Die toneel is steeds plaaslik, ʼn vakansieoord in die Waterberg. Die eienaars is ou vriende van my ouers en mede-tennisentoesiaste – Paul, ʼn Hollander, en sy Belgiese vrou Marie-Rose. In die stil tye buite skoolvakansies kom ons byna weekliks ná skool hier tennis speel. Meestal is dit net ek, my broer en my ma, maar soms sluit Marie-Rose by ons aan vir ʼn viertal. Aan die einde van ʼn grondpaadjie wat by drie rondawels verby kruip, lê die tennisbaan ingedruk in die veld tussen lang gras en bosveldbome: combretums, vaalbome en karees. Maar ook ʼn ou garingboom en ʼn paar kannas – oorblyfsels van die oorspronklike plaaswerf. Die baan is met hoë heinings toegespan, maar nietemin slaan mens dikwels ʼn bal hoog en weg die bos in. Dan moet jy die bal gaan haal, terwyl die ander teen die heining staan en beduie dié-kant-toe en daardie-kant-toe na waar die bal soos ʼn gloeiende kool in ʼn graspol of doringbos te lande gekom het. Dit was in só ʼn boskasie, reikend na daardie geel vlam, dat ek my hand in ʼn doring insteek. Verbeel jou die hand van ʼn kind van tien of elf jaar. Nie ongeskonde nie – ek is immers steeds ʼn plaaskind en daar is bome om te klim, klippe om op te tel en hekke om oop te maak – maar sag en wondbaar. Die doring, vermoedelik die skerp punt van ʼn garingboomblaar, breek maklik die vel, maar laat benewens die klein ingangspunt geen ander spoor nie. Net pyn. Dit was vir weke lank seer, maar ek het later ophou kla, want my ma het dit afgemaak as ʼn kleinserige gepiep. Tot die dag dat ek op die netbalbaan ʼn bal vang en die drukking op my palm skielik iets laat meegee – ʼn duimlange doring wat onder die vel afgebreek het en uiteindelik uitsweer. Regtervoet Nerf-af knieë en gestampte, bloeiende tone was ʼn algemene besering as kind en nie die opnoem werd nie. Dit was eers as student in Pretoria dat ek aan my regtervoet gewond is tot so ʼn mate dat ek moes steke kry. Sunnypark was destyds nog ʼn skaflike plek vir inkopies en uithang, vir fliek en boeke koop. Dit was waarom ons op ʼn Saterdagmiddag gou hierheen gekom het – ek wou vir my broer vir sy verjaarsdag ʼn boekbewys of fliekklubkaartjie koop. Waarom ons haastig was, kan ek nie onthou nie. Maar daar is ʼn gevoel van dringendheid aan die herinnering. Miskien omdat ek die aankope tot op die nippertjie gelos het. Miskien omdat ons elders heen op pad was of maar net wou tuiskom ná ʼn middag se tennis speel. Die tou by SterKinekor was meters lank en ek het my plan maar laat vaar. Ek onthou dat ek by die winkelsentrum uitgekom het en haastig op pad was na waar my ma in die motor gewag het. Op die stuk oop plaveisel tussen gebou en straat het iets skielik op my afgepyl – ʼn jong seun op ʼn fiets het my onderstebo gery en ons het altwee plat op die grond beland. Toe het hy sy fiets opgetel en weggery, terwyl ek met ʼn bloeiende enkel bly lê het waar sy fiets se ketting of pedaal my oopgekloof het. Dit was ʼn gedoente om ʼn dokter op te spoor daardie tyd van die naweek. Dit het een of ander sameswering of liegstorie van die volwassenes behels oor my woonadres, waaraan ek moes meedoen. Ek was in my finale jaar op Onderstepoort in die koshuis, maar het soms naweke by my ma en oupa in Sinoville spandeer. Nietemin is ek opgepatch met steke en verbande en wat nog. Nou bly net dié vae halfmaan rimpeling op my enkel oor as getuienis. Regterhand Van al my ledemate, is my regterhand die kosbaarste. Die besering daaraan is die ernstigste en gebeur chronologies laaste, tydens my jare in ʼn gemengde veeartspraktyk in Cullinan. Soos meeste sulke praktyke, was die dag se spreekure verdeel in twee sessies met ʼn aantal ure in die middel vir sjirurgie en plaasbesoeke. Dié oggend is ek ná ʼn paar operasies dorp toe om my hare te laat sny en op pad terug het ek gestop by die kwekery op die rand van die dorp. Die eienaars was op vakansie en het die huis en besigheid in die sorg gelaat van die skoonma. Terwyl ek plante uitsoek, het ʼn groot Boerboelteef ondersoekend nader gekom. Ook sý was in skoonma se sorg. Sy het vriendelik genoeg gelyk en ek het my nie aan haar gesteur nie. Ek het my plante uitgesoek (ek dink dit was bougainvilleas) en was nou gereed om te betaal. Skoonma sou my bedien, maar het voorgestel dat sy net eers die hond gaan toemaak. Dit was toe sy die hond aan die nekband vat, dat dit sonder waarskuwing vorentoe beur (uit watter misplaaste beskermingsinstink of onderdrukte aggressie?) en my aan die hand gryp. Voor ek nog mooi besef het wat gebeur, was dit verby. Die hond het haar kake ingeslaan oor my regterhand se polsgewrig en dit byna onmiddellik weer laat los. Ek het my bloeiende hand effens onhandig verbind met my linkerhand, met verbande uit die voorrraad wat ek in my bakkie saamgery het vir plaasbesoeke. Die plante het ek laat staan. Die pyn het eers later gekom – ek was al ʼn uur of wat terug by die werk voor ek besluit het om maar dokter toe te gaan. Ek is daardie selfde aand na ʼn hospitaal in Pretoria vir sjirurgie. Die hond se vier slagtande het gelukkig netjies tussen been en senuwees en senings ingedring sonder enige onherroeplike skade. Dié littekens het ook al vervaag en die hond is lankal dood. Ek dra lig aan my littekens, die vier byna onsigbare stigmata aan my lyf. Die verwondings – deur tand en doring en yster – lê so ver in die verlede, maar elkeen ʼn bietjie ernstiger as die vorige een. Maar hier stop dit hopelik. Mens het immer net twee hande en twee voete.
0 Comments
Your comment will be posted after it is approved.
Leave a Reply. |
Archives
April 2026
|