|
Was dit die linker- of die regtervoet? Dié vraag hou my wakker in die nag. As ék dit nie onthou nie, wie bly oor? My pa sou dalk onthou, maar ons herinneringe strook lankal nie meer nie. Wat hy dus as onteenseglike waarheid beskou, sal ek waarskynlik betwyfel.
As hierdie ʼn storie of ʼn allegorie was, sou ek dit tot linkervoet kon lieg, want stories vra immers patroon. Maar my geheue neig na regs. Tog, hierdie ís mos ʼn storie. Dus ... Linkervoet Dit was die eerste van die vier beserings, een aan elke ledemaat, en die herinnering daaraan rol voor my oop soos die openingstoneel van ʼn film, soos ek vyftig jaar terugkyk na ʼn verlede waarvan ek nou toeskouer is eerder as deelnemer. Dit is ʼn plaastoneel: In die agtergrond, teen ʼn effense bultjie, steek die plaashuis se dak bo bome uit, met na regs ʼn stoor en ander buitegeboue. Op die voorgrond is twee kinders – ek is ongeveer vyf jaar oud en my broer Rolf ʼn jaar ouer. Daar is ʼn klein plaasdammetjie tussen ons en die huis. Dit is nie ons huis nie. Terwyl my ma hier besoek aflê by haar vriendin, is ons losgelaat om onsself te vermaak. Ons is self plaaskinders en gewoond aan losloop sonder toesig. Sien nou die twee kinders met hulle blonde koppies. Die seuntjie het ʼn visstok – niks duur of fênsie nie, sommer net ʼn stok met lyn en hoek – en erdwurms wat hy nounet op die damwal uitgegrawe het vir aas. Die dogtertjie vang nog nie vis nie en sy is skrikkerig vir die water – toe hulle tydens ʼn vorige besoek op die ou plaasskuit op die dam geroei het, was sy dodelik bang vir die groot, donker watermassa. Tog fassineer die oewer haar, waar die water dun en deurskynend aan die modder proe soos die klein vissies wat wegswiep as sy nader kom. Terwyl haar boetie met sy visgoed doenig is, kyk sy in die water in, dwaal dan ʼn entjie weg en hurk tussen die kort grassies. Tot hier is die beeld duidelik en my onthou soos deur ʼn helder ruit. Maar wat volg is dynserige, hakkelende hoorsê. ʼn Gil. Nee, ʼn aanhoudende gegil, sodat die vrouens vreesbevange uit die huis storm. Die seuntjie wat verontskuldigend terugstaan: Dit was nie ek nie, Mamma, ek het haar niks gemaak nie! Later sou ek vertel dat ek maar net gaan sit het. Op die slang. Wat my (hoe anders?) aan die hakskeen gepik het. ʼn Nagadder, sou die hospitaalpersoneel besluit na aanleiding van my beskrywing van ʼn kort, bruin slangetjie. Behalwe vir die pyn en swelling en drie dae se hink op ʼn potblou voet, het ek lig daarvan afgekom en geen sigbare litteken oorgehou nie. Die volgende besering sou wel ʼn blywende merk laat, ʼn klein misplaaste stigma. Linkerhand Die litteken aan my linkerhand is ʼn netjiese induiking in die vlesige web tussen duim en wysvinger, soos die ingetrekte punte op kussings of meubels waar dekoratiewe knope kom. Ek let dit selde nog bewustelik op, hoogstens as ʼn netjiese ruspunt vir my wysvingernael wanneer ek my vuis toevou. Die toneel is steeds plaaslik, ʼn vakansieoord in die Waterberg. Die eienaars is ou vriende van my ouers en mede-tennisentoesiaste – Paul, ʼn Hollander, en sy Belgiese vrou Marie-Rose. In die stil tye buite skoolvakansies kom ons byna weekliks ná skool hier tennis speel. Meestal is dit net ek, my broer en my ma, maar soms sluit Marie-Rose by ons aan vir ʼn viertal. Aan die einde van ʼn grondpaadjie wat by drie rondawels verby kruip, lê die tennisbaan ingedruk in die veld tussen lang gras en bosveldbome: combretums, vaalbome en karees. Maar ook ʼn ou garingboom en ʼn paar kannas – oorblyfsels van die oorspronklike plaaswerf. Die baan is met hoë heinings toegespan, maar nietemin slaan mens dikwels ʼn bal hoog en weg die bos in. Dan moet jy die bal gaan haal, terwyl die ander teen die heining staan en beduie dié-kant-toe en daardie-kant-toe na waar die bal soos ʼn gloeiende kool in ʼn graspol of doringbos te lande gekom het. Dit was in só ʼn boskasie, reikend na daardie geel vlam, dat ek my hand in ʼn doring insteek. Verbeel jou die hand van ʼn kind van tien of elf jaar. Nie ongeskonde nie – ek is immers steeds ʼn plaaskind en daar is bome om te klim, klippe om op te tel en hekke om oop te maak – maar sag en wondbaar. Die doring, vermoedelik die skerp punt van ʼn garingboomblaar, breek maklik die vel, maar laat benewens die klein ingangspunt geen ander spoor nie. Net pyn. Dit was vir weke lank seer, maar ek het later ophou kla, want my ma het dit afgemaak as ʼn kleinserige gepiep. Tot die dag dat ek op die netbalbaan ʼn bal vang en die drukking op my palm skielik iets laat meegee – ʼn duimlange doring wat onder die vel afgebreek het en uiteindelik uitsweer. Regtervoet Nerf-af knieë en gestampte, bloeiende tone was ʼn algemene besering as kind en nie die opnoem werd nie. Dit was eers as student in Pretoria dat ek aan my regtervoet gewond is tot so ʼn mate dat ek moes steke kry. Sunnypark was destyds nog ʼn skaflike plek vir inkopies en uithang, vir fliek en boeke koop. Dit was waarom ons op ʼn Saterdagmiddag gou hierheen gekom het – ek wou vir my broer vir sy verjaarsdag ʼn boekbewys of fliekklubkaartjie koop. Waarom ons haastig was, kan ek nie onthou nie. Maar daar is ʼn gevoel van dringendheid aan die herinnering. Miskien omdat ek die aankope tot op die nippertjie gelos het. Miskien omdat ons elders heen op pad was of maar net wou tuiskom ná ʼn middag se tennis speel. Die tou by SterKinekor was meters lank en ek het my plan maar laat vaar. Ek onthou dat ek by die winkelsentrum uitgekom het en haastig op pad was na waar my ma in die motor gewag het. Op die stuk oop plaveisel tussen gebou en straat het iets skielik op my afgepyl – ʼn jong seun op ʼn fiets het my onderstebo gery en ons het altwee plat op die grond beland. Toe het hy sy fiets opgetel en weggery, terwyl ek met ʼn bloeiende enkel bly lê het waar sy fiets se ketting of pedaal my oopgekloof het. Dit was ʼn gedoente om ʼn dokter op te spoor daardie tyd van die naweek. Dit het een of ander sameswering of liegstorie van die volwassenes behels oor my woonadres, waaraan ek moes meedoen. Ek was in my finale jaar op Onderstepoort in die koshuis, maar het soms naweke by my ma en oupa in Sinoville spandeer. Nietemin is ek opgepatch met steke en verbande en wat nog. Nou bly net dié vae halfmaan rimpeling op my enkel oor as getuienis. Regterhand Van al my ledemate, is my regterhand die kosbaarste. Die besering daaraan is die ernstigste en gebeur chronologies laaste, tydens my jare in ʼn gemengde veeartspraktyk in Cullinan. Soos meeste sulke praktyke, was die dag se spreekure verdeel in twee sessies met ʼn aantal ure in die middel vir sjirurgie en plaasbesoeke. Dié oggend is ek ná ʼn paar operasies dorp toe om my hare te laat sny en op pad terug het ek gestop by die kwekery op die rand van die dorp. Die eienaars was op vakansie en het die huis en besigheid in die sorg gelaat van die skoonma. Terwyl ek plante uitsoek, het ʼn groot Boerboelteef ondersoekend nader gekom. Ook sý was in skoonma se sorg. Sy het vriendelik genoeg gelyk en ek het my nie aan haar gesteur nie. Ek het my plante uitgesoek (ek dink dit was bougainvilleas) en was nou gereed om te betaal. Skoonma sou my bedien, maar het voorgestel dat sy net eers die hond gaan toemaak. Dit was toe sy die hond aan die nekband vat, dat dit sonder waarskuwing vorentoe beur (uit watter misplaaste beskermingsinstink of onderdrukte aggressie?) en my aan die hand gryp. Voor ek nog mooi besef het wat gebeur, was dit verby. Die hond het haar kake ingeslaan oor my regterhand se polsgewrig en dit byna onmiddellik weer laat los. Ek het my bloeiende hand effens onhandig verbind met my linkerhand, met verbande uit die voorrraad wat ek in my bakkie saamgery het vir plaasbesoeke. Die plante het ek laat staan. Die pyn het eers later gekom – ek was al ʼn uur of wat terug by die werk voor ek besluit het om maar dokter toe te gaan. Ek is daardie selfde aand na ʼn hospitaal in Pretoria vir sjirurgie. Die hond se vier slagtande het gelukkig netjies tussen been en senuwees en senings ingedring sonder enige onherroeplike skade. Dié littekens het ook al vervaag en die hond is lankal dood. Ek dra lig aan my littekens, die vier byna onsigbare stigmata aan my lyf. Die verwondings – deur tand en doring en yster – lê so ver in die verlede, maar elkeen ʼn bietjie ernstiger as die vorige een. Maar hier stop dit hopelik. Mens het immer net twee hande en twee voete.
0 Comments
Dis die mens se aard om te wil inmeng met die natuur. Dis die kunstenaar (en skrywer) se aard om die wêreld, en dus ook die natuur, te wil interpreteer en reïterreer. In vele opsigte is dit ʼn onbegonne taak, wat nie beteken dat mens gaan ophou probeer nie. Koppig hou jy aan, probeer jy die gegewe herskryf. Maar die Waterberg is, vóór die aankoms van skrywers, rééds verwoord. Is reeds ʼn gedig.
“Uit die gevormde literatuur,” skryf NP van Wyk Louw, “is nooit weer poësie te maak nie/ uit die ongevormde wél”. Die Waterberg is ongevormde literatuur, ʼn taalruimte van natuur. Die kranse is daaruit opgebou en bevolk met plante, voëls, diere, kleinvolk wat in die blote naamgewing daarvan reeds poësie word. Luister hierna (of lees dit hardop): moepel mispel maroela stamvrug suurpruim botterklapper poerabessie wurgvy doppruim drolpeer dopperkiaat kurkbas soetdoring sekelbos kierieklapper raasblaar rooibos hardekool horingpeultjie haak-en-steek wag-ʼn-bietjie pypsteel dikbas bobbejaanstert poeierkwas knapsekêrel miershoop mamba piet-my-vrou pietkluitjiekorrel gompou kwêvoël waterhondjie mopaniewurm rinkhals rysmier ghielemientjie. Die ruimte wat digters letterkundig probeer verewig is lank reeds uitgespel deur bewoners en naamgewers, Adams en Evas wat die aarde benoem het. Elke naamgewing is ʼn klippie in die konglomeraatgedig van die Waterberg. Eers later diep digters daaruit en rangskik die losgebreekte spoelklippe in versreëls of gooi dit soos dolosse op die grond. Carina Stander, bekende skrywer, kunstenaar en Waterbergboorling, knipoog na so ʼn lys in haar gedig “droogte is stil chaos” (die vloedbos sal weer vlieg, 2006): “maroela klapper kanniedood” *. Die naamkundige Lucia Möller is eweneens ʼn Waterbergdigter en noem dié dinge (wel minder opvallend) op, soos die “bergkarees en klapperbome”, “wildekatjiepieringhout”, “rotsvykranse”, “stinkhout-, vye- en haakdoringboom” in die gedig “Wandelpaaie” (Watermerke, 2009). Plekname vorm ʼn tweede betekenislaag: Sterkstroom Doornfontein Vaalwater Kranskop Nylsvlei Tarentaalstraat Dwarsrivier Sandrivier Melkrivier Vier-en-twintig-riviere. Maar ook: Lephalala Mokôlo Mmamatlakala Mogalakwena. Wie kan stry dis pure poësie? Skrywers put uiteraard uit bestaande woorde en taal, ʼn taal “geërf gedêps geleen”, aldus Carina Stander (“Credo I” uit bogenoemde bundel). Eugène Marais, seker die Waterberg se bekendste skrywer, beskryf die streek meer breedvoerig in sy prosa as in gedigte. Vir myself bly dié grootwordplek ʼn numineuse inspirasie eerder as iets waar ek ooit my tong om sal kan kry. NP van Wyk Louw skryf: “Iets staan in sterrehelderte geskryf/ en ek skryf ná in stof”. Of, in die geval van die Waterberg – ek skryf ná op water. Die water en die klip is reeds poësie. Digters kan bloot die klippies uitskiet oor die water en hoop dat dit darem ʼn paar maal sal spring voor dit merkloos die dieptes in verdwyn. * Terloops, Antjie Krog, wel nie ʼn Waterberger nie, maak meesterlik uit ʼn soortgelyke lys ʼn besonderse gedig, “Afrikaanse Abecedarium” (Groen, 1990).
Hierdie essay is aanvanklik geskryf vir opname in Plus 50: Streek/Region Waterberg (Des. 2023), maar is nie gepubliseer nie. Die essay "Klipstories" verskyn wel daarin.
My hartjie, my liefie, die son kom op, die son kom op, dáár anderkant die blou berge... En wanneer mens gaan kamp in die hartjie van New South Wales se Blue Mountains National Park, met ʼn grondpad af en af teen die berg tussen hoë bome en rotse en varings deur, waar mens selfoonontvangs verloor en hoop jy sal oor ʼn dag of drie weer hierdie steil, klipperige bult kan óp, maar nou is dit net aanhou ondertoe en jou hart wat in die nou paadjie op tippietone opsystaan vir ander motors wat van voor af verbykom, af en af tot by Murphy’s Glen kampeerterrein (en jy hoop tog nie dis ʼn voorbode van Murphy’s Law nie, want jy wéét hoe dinge kan skeefloop wanneer julle gaan kamp), af tot waar ʼn stroompie iewers onsigbaar verbyflikker, dan kom die son eers láát op.
Die kaketoes, hoog in die boonste boomtoppe, sien egter heelwat vroeër die son ver oor Sydney se see opkom. Wanneer die lig skaars begin om die nag se potloodskaduwees uit te vee en die oog nog sukkel om van vorms sin te maak, raak die groot voëls al onrustig. Geelkuifkaketoes (sulphur-crested cockatoos) is groot en imposant en astrant, en hul stemme stam uit ʼn oertyd van krysende pterodaktiele. Die voëlboek beskryf hulle roep as ʼn “loud raucous screech”. Inderdaad. As ʼn swerm van dertig plus kaketoes ontwaak, is dit ʼn raserige saak. Bring solank jou oorpluisies. Vandat die eerste een sy skel “krê-krê” die oggendskemer instuur, is dit ʼn rumoer en gekrys en geskreeuery van ʼn goeie twee ure voordat die laaste een die daglig invlieg om elders te gaan wei. En vanaand se tuiskoms is dieselfde luide geskel tot almal uiteindelik hul sit gekry het. Tog kan ek begryp hoekom dit betreklik maklik is om kaketoes te leer praat. Daar is ʼn wonderlike verskeidenheid in die kras klanke. “Koppiekrap” is maar een variant. Ná ʼn paar uur se luister, hoor ek “hello”, “let’s go”, “hector” en andere. Daar’s behoorlik ʼn heen en weer gegroetery en uitskellery. Bygesê, twee ure se aanhoudende lawaai kan met jou kop mors ... Later klink die kaketoes vir my soos ʼn skare betogers wat slagspreuke skreeu, oor en oor. Maar dan kom een met ʼn nuwe gevatheid en sowaar, die volgende dag skree almal die nuwe deuntjie. Op ons laaste aand in die kamp, lank voor die kaketoes se geraas uitgewoed is, beset ʼn nuwe groepie kampeerders een van die vyf staanplekke. Dis ʼn kampkombi met vier jong meisies wat, te oordeel aan hul aksente, iewers uit Wes-Europa kom. Met hul generiese poniesterte en mooi lyfies in kort-kortbroekies trotseer hulle ongeërg die Australiese nag, selfs hier waar ʼn boskleinhuisie die enigste “geriewe” is. Terwyl ons die volgende oggend kamp afslaan, loer ek na hulle deur die tentflappe. Dis effens deinserig en hier in die waai van die berg in die bome se skaduwee kan mens se oë jou parte speel. So op ʼn afstand van dertig meter en aan die ouderdom se afdraandkant is ek seker ook nie geseën met die skerpste visie nie. Moet dus nie my woord neem daarvoor nie. Maar ek sweer een van die “pretty young things” stap uit die kombi met nét ʼn T-hemp aan. En as sy wel dalk ʼn deurtrekker aangehad het – wel, die prentjie van agter bly dieselfde. My ma se oë sou op steeltjies gestaan het. My ouma, wat lief was om mens te betig oor hemppante wat uithang – “Hoeveel kos jou vadoeke?” – sou óf dood neergeslaan het óf die dametjie ʼn grondseil gaan aanbied het om haar naaktheid mee te bedek. Ek wend maar net my oë af en skud my kop. Dis iets wat ek deesdae al meer bemerk hier, maar wat duidelik nie beperk is tot die jeug van Australië nie – jong meisies (slank of geset, mooi of lelik) verskyn in die openbaar in lycrabroekies wat só styf sit dat dit absoluut niks aan die verbeelding oorlaat nie. Dis asof hulle wil seker maak die Liewe Here tel elke haar nie net op hulle hoofde nie, maar op elke ander geheime plekkie. Selfs andersins skynbaar goedopgevoede meisies vind dit nie vreemd om so ontbloot rond te gaan nie. Maar, besef ek toe skielik, hoe kan ek oordeel oor die gepastheid daarvan? In Afrika en elders in sogenaamde “inheemse” gemeenskappe loop vrouens ewe ongeërg rond met ontblote borste en mans met skraps lendelappies. Ja, maar, sal jy sê, dis deel van hulle kultuur. Presies. En hierdie nuwe vlaag kaal meisies is skynbaar deel van die moderne Westerse kultuur. Ek het gewonder wat sou die kaketoes daaroor te sê hê, maar het versuim om te vra. Hello, hello, let’s go. Dáár anderkant die Blouberge... I will be closing down my Colour and Quill Facebook Page. For news and updates, please check back every month or two or contact me via email [email protected].
The Feeding-the-baby Hour
In the throes of middle age, I lie bewitched at night. If that word conjures up too much of an air of magic and fairy tales, it is because I shy away from its alternative – “cursed”. It is not quite a case of dark ladies on broomsticks, but it is just as vexing. Night sweats and hormonal roller coasters no longer keep me awake. That inconvenience has been exorcised (and here I do confess to some ritualistic wand-waving) and buried with the dried-up dreams of my now defunct ovaries. I call it the feeding-the-baby hour. Perhaps it is a curse, the universe demanding payback for my baby-free youth, during which I slept like, well, like a baby. Or a log at least. What is certain, a fact proven by the dark-night dabblings constituting this piece, is that my nights are broken by hours of wakefulness. I can rely for my nightly assignations on an hour or two where sleep retreats like an ebbing tide, leaving me on the exposed mud flats of existence, alone with my thoughts and the baby I have to feed. It is a foundling and an impostor. It is a cuckoo chick in the nest of my mind. It slumbers on the edge of my consciousness and as I surface out of deep dreams to take a breath (or a leak), it rolls to face me and I’m awake. Sleep tugs at me. I am here, it says. I roll onto my other side. I am also here, screeches the baby, and sleep retreats. By now I know I do not have a choice. The baby needs a feed. Its unfocused eye is a globe, a dying planet grown cloudy with greenhouse gases. It blinks and another species dies, spilt like tears of acid rain. The sparse threads of its hair are remnants of a rain forest that will never recover. The baby squints and cries. Its hungry throat is the colour of disease as it swallows my concerns, gulping down statistics on cancer and pollution and viruses. I feed it drops of worry, filling its gut with shredded bills and bank statements, the checks and balances of my life. It spits them out again, burping half-digested untruths. In the tiny hands that grab hold of my clothes and hair I read both past and future. The actions and reactions of the past day replay endlessly in each tiny whorl of its fingerprints, and in its palms I see predicted the follies of the next As the baby settles, I sing it a lullaby, a new song from the ramblings of my tongue. Like a modern-day Rumpelstiltskin I weave my word straws into silk and tuck the baby in. As the witching hour approaches, we both fall back asleep. Until tomorrow night. Because the baby needs a feed. |
Archives
April 2026
|